fbpx
Boekstories

Afrikaans • Gesin • Gratis
Netwerk24-feeskafee
Die tydsduur van die gesprekke is 45min.

Boekstories

Feesgangers kan daagliks na drie gratis gesprekke met skrywers kom luister in die Netwerk24-feeskafee. Verwag om vermaak te word, maar ook geroer en wakkergeskud te word, sê die sameroeper Elna van der Merwe.

Seuns sonder pa’s

MET Julian Jansen Gespreksleier Haidee Muller-Isaacs, RSG-omroeper en vryskut joernalis

Die gesprek word aangebied met die samewerking van Rapport. Meer as 60% van Suid-Afrika se kinders word sonder ’n pa groot. “Een rede is dat pappa nog vanmiddag vir die o.19-rugbyspan speel. Baie pa’s is so jonk as 15,” sê Julian Jansen oor sy aangrypende boek Seuns sonder pa’s. ’n Ander faktor is trekarbeid waar baie pa’s uit die Oos-Kaap in die Hoëveld se goudmyne gaan werk het. Hulle was vir maande en selfs jare nooit tuis nie. Jansen skryf oor toksiese pa’s wat kinders blywend kan seermaak. Hy voel sterk oor mentors se positiewe rol in veral seuns se lewe. “Mentors het ons vier seuns se lewe gered,” vertel hy.

29 Maart 14:00

Ivoor en Vlam

MET Jaco Wolmarans en Sidney Gilroy GESPREKSLEIER Wicus Pretorius, Tuis-redakteur

Jaco Wolmarans sê as mense ná die lees van Ivoor wonder watter persentasie van die verhaal waar is, is hy tevrede. Sy hooftema gaan oor ivoorsmokkelary, maar daar is ook die kwessie van weeskinders van die Bosoorlog wat steeds geld van oorsee ontvang. Dit lyk darem baie soos die weermag in die apartheidsera se handewerk. Dis ’n hardebaard-krimi dié.

Vlam open gepas met ’n brand. Hierin word al die werke van ’n beroemde kunstenaar in ’n kunsgalery vernietig. Speursersant Sollie Mthembu is self in sak en as, want sy geliefde Palesa het hul kinders gevat en geloop omdat sy hom verdink van ’n affair. Hy is nie lus vir die saak nie, want waar het sy sukses hom gebring? Sy gesin in ’n kraal in Lesotho en hy in ’n gastehuis in Bloem.

29 Maart 11:00

1 Recce: Onsigbaarheid is ons krag

MET Alexander Strachan Gespreksleier Erns Grundling, skrywer en TV-aanbieder

1 Recce: Onsigbaarheid is die laaste boek in die 1 Recce-trilogie. Dit begin met ’n ingewikkelde strooptog, Operasie Kerslig, op die olieraffinadery in Luanda. Dan volg verskeie ander strooptogte deur 1 Recce, wat insluit die opblaas van lokomotiewe in Lobito, ’n helikopter wat neergeskiet word en die ontwrigting van Beira se brandstofverskaffing. In Operasie Saga sterf die laaste recce in die Grensoorlog: Kpl. Herman Carstens was ’n voertuigbevelvoerder en het die .303-dubbelloop-masjiengeweer op sy Casspir beman. Hulle beland in ’n hinderlaag van sowat 20 Swapo’s en in die daaropvolgende skietgeveg word Carstens deur skrapnel in die rug en agter die oor getref. Hy sterf op slag.

29 Maart 16:00

In die tyd van die gif

MET Dana Snyman Gespreksleier Julian Jansen, joernalis en skrywer

Die tyd toe ons lewens handomkeer verander het. Dana Snyman skryf oor treur en vertwyfeling. Oor die Shosholoza Meyl en die treine wat nie meer ry nie. Hy kuier by Karel Schoeman se motorbestuurder, besoek Etienne Leroux se gunstelingkroeg en gesels met een van die polisiemanne wat by die omstrede Sharpeville-skietery was. Daar is ook Henry, wat met sy hond by sy ma se motorhuis intrek, John Mgaga wat dag na dag dieselfde hamer probeer verkoop, en Koos Sas wie se skedel nooit begrawe is nie. Hy gesels met hoopgewers, soos ds. De la Harpe wat die Toringkerk in Bloemfontein omskep in ’n plek van liefde.

30 Maart 11:00

Koöperasiestories

MET Margit Meyer-Rödenbeck, Alexa Strachan en Dana Snyman

Mietie, Veldsman, Genis, Lettie en die ander inwoners van Gezinasrus was van 1983 tot 1985 welkome gaste in Afrikaanse sitkamers toe Koöperasiestories op televisie uitgesaai is. ’n Nuwe generasie kan hulle nou verlustig in die verhale deur die meesterstorieverteller P.G. du Plessis, want ’n keur van die gewildstes is nou in ’n nuwe omnibus uitgegee.

Margit Meyer-Rödenbeck en Alexa Strachan het ses jaar gelede as vervaardigers besluit dis die ideale stories om mense na die teater te lok. Strachan het alles wat sy van skryf en storievertel weet aan P.G. se voete geleer. Hy het gereeld met deernis (en kritiek) na haar as sy en Marie se “aangenome dogter” verwys. Snyman was en is een van P.G. se grootste fans. Sy eie skryfwerk resoneer met P.G. se menslikheid en fyn waarnemingsvermoë.

30 Maart 14:00

Grootgeluk

MET Jan van Tonder Gespreksleier Daniel Hugo, digter en vertaler

Dis die verhaal van die Schoemans van die spogplaas Grootgeluk, hul dogter, Maria, wat op ’n Skotse klipkapper verlief raak, en net soveel van Tijs Velaat. Tijs is op die plaas gebore en sy lewe raak saam met dié van sy ma, Hessie, verstrengel met die wel en wee van die plaas. Die baas van die plaas (in elke sin van die woord) is ’n uiters hardvogtige man wat sy vrou, dogter en plaaswerkers met ’n harde hand regeer. Van Tonder teken die lewe in die destydse “volstruishoofstad van die wêreld” in helder hale, onder meer die “teas” en “lunches” en danse in die Queens-hotel.

30 Maart 16:00

Vlug

MET Wilna Adriaanse Gespreksleier Elna van der Merwe, joernalis en boekeredakteur

Hoe vlug jy as jy nie weet waar die vyand is nie? Die ondertitel van Adriaanse se jongste roman sou ook kon vra: “Hoe vlug jy as jy nie weet wié die vyand is nie?” Vyf jaar tevore is Milla deur ’n groot tragedie getref; sy klim in haar motor en vaar Afrika in. In die Demokratiese Republiek van die Kongo kom sy tot stilstand by ’n rehabilitasieoord vir sjimpansees. Maar op ’n dag moet sy ook hier vlug toe regeringsoldate en rebellegroepe slaags raak. By haar is drie sjimpanseewesies en ’n dokter van Médecins Sans Frontières. Adriaanse kom spesiaal vir die dag uit Gaborone na Oudtshoorn om met haar lesers te gesels.

31 Maart 11:00

Hier waar ek nou is

MET Matty Strydom Gespreksleier Haidee Muller-Isaacs, RSG-omroeper

“Ek beskryf Jessica se geite en grille in vele anekdotes in my boek. Haar woord was ‘conviction’ – sy het met oortuiging geleef. Begaafd, belese, berese op 19. Dapper, sterk, slim, skeppend en vol liefde.” Oor haar dogter se selfdood sê Strydom: “Ek haal graag my geliefde Leonard Cohen aan: ‘I do not have the authority or understanding to speak of these matters.’ ”Sy gaan reis en hou skool in Suidoos-Asië om as ’t ware weer haar ‘reset’-knoppie te druk. Hierdie weggaan is uiteindelik goed – vir haar huwelik omdat mense verskillend rou, en vir hul oudste dogter, sodat sy nie deur haar ma se pyn verswelg word nie.

31 Maart 14:00

Tussen twee vure

MET Pieter van Wyk Gespreksleier Daniel Hugo, digter en vertaler

In sy polisieloopbaan van 27 jaar word die skrywer dikwels met dié vrae gekonfronteer: Wie is ek? Waar hoort ek? Wie is reg en wie verkeerd? Die eens onskuldige seuntjie van die Karoo kry te doen met die komplekse Suid-Afrikaanse samelewing waarin ras so ’n oorheersende rol speel. As dienaar van reg en geregtigheid word hy soms uit sy eie gemeenskap verstoot. Tussen twee vure is ’n meesleurende verhaal van swaarkry, oorwinning en versoening. Van Wyk het in 2007 met die rang van kaptein uit die polisie getree en hom daarna in die regte bekwaam, deesdae met ’n praktyk op Oudtshoorn.

31 Maart 16:00

Moer

MET Michèle Meyer Gespreksleier Elna van der Merwe, joernalis en boekeredakteur

Moer, Meyer se debuut, is ’n fragmentariese roman oor die aftakeling wat vrou- en ma-wees meebring. Kylie kom nie die mas op as ma van twee dogtertjies nie. Die roman kyk ook terug op haar kleintyd vol verwondering en verwonding. Daar is ’n ontnugterde blik op swangerskap sonder vreedsame afwagting en innige vervulling; eerder gekenmerk deur angstigheid en ongemak. Die bloedige slagveld van geboorte word ontstellend verwoord en daarna die allesoorheersende liefde vir die babas. Maar ook die gyselaarsituasie van ’n ongelukkige huwelik: “Om ’n ma te wees, is onmenslik moeilik as jou gees gevlug het uit jou lyf.”

1 April 14:00

Bientang

MET Jolyn Phillips Gespreksleier Amelda Brand

Die toneelstuk Bientang: bloedspoor/!nau is ’n verwerking van die bekroonde digter Jolyn Phillips se tweede digbundel, Bientang. Haar inspirasie vir die bundel was toe sy op ’n keer saam met vriende by die Bientang se grot-restaurant in Hermanus geëet het. Agterop die spyskaart was die legende van ene Bientang, ’n strandlopervrou, wat volgens oorlewering daar gewoon het. Phillips het gaan navorsing doen oor haar, maar niks gekry nie. “Toe begin ek wonder hoe is dit moontlik dat jou geskiedenis so totaal uitgewis kan word?” Ná die bundel het sy gevoel sy is nog nie klaar met Bientang nie. “Met die verhoogstuk delf ons verder in inheemswees en hoe dit gebeur dat ’n mens ’n laaste word.”

1 April 11:00

’n Hart is so groot soos ’n vuis

MET P.P. Fourie Gespreksleier Elna van der Merwe, joernalis en boekeredakteur

“Die skryf van die boek het van my ’n sagter mens gemaak. Die skanse is meer laat sak, die skerp punte is bietjie stomper gemaak. Ek het selfs dalk deernis met my pa. Maak geen fout nie – dis geen kumbaya nie. Ek praat nie eens oor vergifnis nie. Ek weet nie wat dit beteken nie.” Prof. P.P. Fourie vertel in romanvorm die werklike verhaal van hoe hy, maar veral sy ma, afgeknou is deur sy pa, ’n charismatiese man wat in die sewentigerjare effens bekend geraak het as dramaturg. Hy verkwalik die mense, onder meer die regter en sy vrou langsaan, wat geweet het wat aangaan, maar niks gedoen het nie. “Daardie wegkyk is verdoemend.”

1 April 16:00 

’n Baie lang brief aan my dogter

MET Marita van der Vyver Gespreksleier Cintaine Schutte, aktrise

Die geliefde skrywer se jongste boek is ’n liefdesbrief aan haar Franse dogter, Mia, oor haar eie grootwordjare tydens die apartheidsjare. Van der Vyver het die briefvorm gekies vir haar outobiografie, nie net omdat sy verknog is aan die kuns van briefskryf nie, maar ook omdat dit naby aan ’n intieme praatstem is. Sy wil hê haar kind moet weet van haar wortels wat in ’n ander land lê, van familie wat sy nooit geken het nie en van ’n lewenswyse wat vir haar onbekend is. Sy vertel van liefdesverhoudings wat nie uitgewerk het nie, en seksualiteit, ’n onderwerp wat Van der Vyver glo ’n ma met die grootste eerlikheid met haar dogter moet bespreek.

2 April 10:00 

Laat kinders lees

MET Fanie Viljoen Gespreksleier Hannes Barnard, skrywer en verkoopsbestuurder, Penguin Random House

Fanie Viljoen is ’n veelbekroonde skrywer, veral vir kinders en jongmense. Hy is ook ’n visuele kunstenaar wat verskeie van sy eie boeke geïllustreer het. Van sy tekste is in kortflieks omskep en hy is besig om die kuns van draaiboekskryf te leer. Die draaiboekverwerking van sy boek Pixel het verlede jaar deurgedring tot die kwarteindronde van die Amerikaanse ScreenCraft-animasiekompetisie. Verskeie van sy boeke word jaarliks nasionaal voorgeskryf, maar sy betrokkenheid by skole strek veel verder – hy is gereeld besig om by skole te kuier om ’n liefde vir lees by kinders aan te wakker.  

2 April 14:00 

Eugene

MET Kirby van der Merwe Gespreksleier Frederik de Jager, ouduitgewer en mede-eienaar van The Talking Table

Aangebied met DIE samewerking van SON

Eugene is ’n gentleman-skollie. Hy het grootgeword in die “killing fields” van die ghetto in die jare sewentig. Onder sy verfynde stadspersona is nog die blitsige verstand, die rateltaai lyf wat jou sal lem as jy hom bedreig. Hy skryf die stories van sy deurgangsrites op, kleurryk van die roekeloosheid en gevaar, die drank en seks, die onlus van ’76 en die struggle, die polisie en die bloed. Hy was vyf toe kom sit die bobbejaan al op sy rug, ’n gestalte van sy eie waagmoed en woede. Sy stories loop op ’n “road trip” uit, en die bobbejaan is daar. Eugene is ’n epos van die townships, komies en dodelik ernstig. ’n Roman waarop Afrikaans al lank wag.

2 April 16:00 
KKNK 2022 Ons wil graag vir jou kort nuusnotas stuur met belangrike nuus en gebeure!
Dismiss
Allow Notifications