fbpx
Diskoersreeks

DIE BURGER SE PRAAT SAAM - diskoersreeks 

Elke oggend om 08:30 lei Jody Hendricks van RSG-faam dié gewilde gespreksreeks wat handel oor sake van die dag en belangrike landskwessies. Die program is saamgestel deur Ivor Price. Kom gesels saam. 

Hoe red mens ‘n dorp? 

MET Dr. Willie Cilliers (voorsitter van die AHi Wes-Kaap), Chad Louw (burgemeester van Oudtshoorn) en dr. Ruben Richards (burgemeester van Clanwilliam)

Die winde van verandering waai in Suid-Afrika namate al hoe meer gemeenskappe hul politieke verskille agterlaat en self inspring om dorpe om te keer. Hulle maak slaggate reg en roei munisipale korrupsie uit om uiteindelik die plaaslike ekonomie te kan stimuleer. Hoe kry ons meer mense om eienaarskap van hul dorpe te neem? Hoe stimuleer ons entrepreneurskap in landelike gemeenskappe?

Afrikaans en Engels Gesin • 60 min. • Gratis
Netwerk24-feeskafee • 29 Maart 08:30

Onse vaders

MET Ivor Swartz, Stefaans Coetzee en Julian Jansen (al drie skrywers in eie reg en deel van ’n nuwe geslag pa’s)

Wat beteken dit om ’n pa, of ’n goeie pa, in Suid-Afrika te wees? In ’n land waar vroue maar nog altyd voorgevat het, beklemtoon nuwe navorsing die potensiaal van mans om versorgers in hul gesinne en breër gemeenskappe te wees. Dit beklemtoon ook die diepgaande impak wat Suid-Afrika se ongelyke ekonomiese stelsel het op pa’s se vermoë om teenwoordig te wees in hul kinders se lewens, en op pa’s se geestesgesondheid. 

Afrikaans en Engels • Gesin • 60 min. • Gratis
Netwerk24-feeskafee • 30 Maart 08:30

Die impak van aardverhitting op SA landbou

MET Prof. Stephanie Midgley (’n wetenskaplike en klimaatkenner verbonde aan die Wes-Kaapse departement van landbou) en Dawie Maree (’n landbou-ekonoom by FNB Landbou)

Plaaslike landbouers verstaan alte goed dat hulle nie elke jaar winsgewend sal wees nie. Die aanname is dat alles op die lang termyn sal uitwerk, en dat die goeie jare altyd vir die slegte jare sal vergoed. Maar is aardverhitting nie besig om die risiko’s te verander nie? Die kort antwoord is: ja. Wetenskaplike bewyse van die laaste dekade dui toenemend op ’n nuwe werklikheid – verhoogde temperature en wisselvallige reënvalpatrone bedreig voedselvoorsiening.

Afrikaans en Engels • Gesin • 60 min. • Gratis
Netwerk24-feeskafee • 31 Maart 08:30

Hoe floreer die private sektor in ’n welsynstaat?

MET Prof. Christi van der Westhuizen (verbonde aan die Nelson Mandela-universiteit) en prof. Erwin Schwella (verbonde aan die Hugenote-kollege se Skool vir Sosiale Innovasie)

Die rooi ligte flikker dat Suid-Afrika dalk ’n welsynstaat kan word. Tog dui pres. Cyril Ramaphosa se onlangse staatsrede asook Enoch Godongwana, minister van finansies, se begrotingsrede op groter steun vir die private sektor om geleenthede en werk te skep. Die private sektor kla egter dat hulle doodgesmoor word deur striemende arbeidswetgewing en oormonitering deur die staat. Hoe lyk die pad vorentoe te midde van toenemende werkloosheid?

Afrikaans en Engels • Gesin • 60 min. • Gratis
Netwerk24-feeskafee • 1 April 08:30
Ivor Price

Hoe het die oorlog in Oekraïne die geopolitieke landskap verander? 

MET Prof. Anthoni van Nieuwkerk (verbonde aan Unisa se nuwe Thabo Mbeki Africa School for Public and International Affairs), en prof. Abel Esterhuyse (voorsitter van die Universiteit Stellenbosch se departement van strategiese studie in die fakulteit militêre wetenskap) 

Die Russiese inval in Oekraïne einde Februarie het die wêreld op sy kop gekeer. Van die mees drakoniese sanksies is teen Rusland en sy bondgenoot Belarus ingestel. Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het bykans oornag ’n held geword met sy volgehoue stryd om die demokrasie te beskerm. Beelde van die verwoestende oorlog het vinnig gelei tot gesprekke rondom ’n derde wêreldoorlog, die gevaar van ’n kernoorlog en/of ’n nuwe koue oorlog. Met die prys van Brent-ruolie wat die hoogte ingeskiet en wêreldmarkte wat gesteier het, dra Suid-Afrikaners saam met die res van die wêreld aan die gevolge. Boonop word daar vrae gevra oor waar ons regering en Brics staan: Is ons aan die verkeerde kant van die geskiedenis? 

Afrikaans en Engels • Gesin • 60 min. • Gratis
Netwerk24-feeskafee • 2 April 08:30

Bruin identiteit: ’n Versweë leefwêreld?

MET Danie van Wyk (uitvoerende hoof van die DAK Netwerk), Michael Jonas (direkteur van die Afrikaanse Taalmonument-en-museum), Virginia Keppler (joernalis en gemeenskapsaktivis)

Die afgelope paar jaar is daar ’n beweging om bruin mense meer bewus te maak van hul eie identiteit en agtergrond. Dit sluit pogings van die DAK Netwerk in om voorheen agtergelate Afrikaanse mense deel van die openbare diskoers te maak. Maar, soos Bettina Wyngaard opmerk, pas bruin mense nie lekker in die beskikbare boksies in nie. Hoe lyk die pad vorentoe en wat is hul rol in die Suid-Afrikaanse samelewing?

Afrikaans en Engels | Gesin | 60 min. | Gratis
Netwerk24-feeskafee • 3 April 08:30

KKNK 2022 Ons wil graag vir jou kort nuusnotas stuur met belangrike nuus en gebeure!
Dismiss
Allow Notifications