Die veelbekroonde Amanda Strydom, doyenne van die kabaretverhoog, neem jou op ’n nostalgiese reis vol stories, poësie en “onthou jy nog?”-musiek. Strydom, pianis Coenraad Rall en tjellis Susan Mouton wag al twee jaar lank om hierdie produksie vir KKNK-gehore op te voer. ’n Lafenis vir moeë pandemiesiele met lieflike verwerkings van bekende liedjies van o.a. Strydom, Bob Dylan, John Lennon, Jacques Brel, Koos du Plessis en Don McLean.
Strydom vier uiteindelik haar 26ste KKNK en 43ste jaar in die bedryf met hierdie produksie – sy is die enigste kunstenaar in die geskiedenis van die KKNK wat sedert 1995 by elke fees opgetree het.