Die geliefde Liewe Heksie is terug! Haai oe, maar sy het bietjie vergeet van verjaarsdae en daarom vier sy haar “eerste” verjaarsdag vanjaar in Oudtshoorn by die KKNK. Met haar presente, ’n biki-kini en rolskaatse beloof sy om Blommeland nog kleurryker te maak. Maar ai, die groot grillerige Geelheks probeer haar vieringe in die (rolskaats)wiele ry. Levinia vra mooi: “Asseblief, klein en groot kaboutervriende van Menseland, help my dat ons al die stoute karnallies kan verwilder.” (En o, ja – sy sukkel ook bietjie met haar masker…)
Verna Vels se immergroen verhale kry nog meer lewe met baie gehoordeelname en voortsnellende aksie. Margit Meyer-Rödenbeck is die “ultimate”, nimlike Heksie en die uiters talentvolle Deon van Zyl draf die rolle van Karel Kat, die Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf. ’n Aanbieding vir die hele gesin: By vorige KKNK’s het selfs van die volwassenes gesê dit was hul vermaaklikste produksie in jare!