“Elke nou en dan, min of meer een maal per jaar, gebeur ’n teaterstuk wat ’n mens nie durf misloop nie. Die soort teaterbelewenis wat jou oorrompel met ’n verpletterende besef dat die lewe broos en verganklik is. Hoendervleis-oomblikke op sy beste. So ’n stuk is Oskar en die pienk tannie.” – Deborah Steinmair
Hierdie veelbekroonde stuk deur Eric-Emmanuel Schmitt is verruklik: Dis terloops hartseer en terloops snaaks. Prinsloo vertolk die rol van ’n tienjarige seuntjie wat terminaal siek is. En dié van ’n ouma én ’n paar ander karakters in die kindersaal. Sy vervel naatloos en gee lyf aan ’n reeks karakters wat bybly. Wees gewaarsku: Dit is sneesdoekie-gebied, ’n mens se wange word vroeg al nat. Oskar gee ’n blik op grootmense, die liefde, hormone, God en die dood. Prinsloo skitter in hierdie tydlose eenvrouvertoning. Dit is ’n roerende, deernisvolle kragtoer wat jy beslis nie moet misloop nie.