fbpx

Teatergesprekke

Teatergesprekke sal aangebied word by ’n spesifieke vertoning van sewe produksies net ná afloop van die vertoning. Sluit aan by die geselskap om meer te wete te kom van praktiese en kreatiewe aspekte sowel as om ’n dieper insig in dié bepaalde werk te kry.

Bientang: bloedspoor/!nau

MET Jolyn Phillips, Amelda Brand, Charlton George en Deniel Barry

Dié produksie is ’n verwerking van Jolyn Phillips se tweede digbundel, Bientang, wat in 2020 verskyn het en waarvoor sy in 2021 die Eugène Marais-prys gewen het. Dit vertel die verhaal van die legende van Bientang, wat in ’n grot in Hermanus gewoon het. Hoe kry so ’n epiese gedig lewe op die verhoog? Hoe word musiek daarby ingeweef en waar kom die musiek vandaan? In verskeie resensies oor die digbundel verwys die kritici na die rykheid van die taal, die veelvlakkigheid en ook dat ’n mens nie alles sommerso sal verstaan nie. Wat gebeur in die omskakeling na ’n ander medium, word dié wêreld van ’n vroeëre tyd met die visuele hulp van teater vir die kyker/luisteraar helderder, die simboliek duideliker ontsluit?

Afrikaans • Gesin • 45 min. • Gratis
Toekomsrussaal 
29 Maart 16:30 (ná die 15:00-vertoning)

Die halwe huis

MET Ricardo Arendse, Marlo Minaar en Lee-Ann van Rooi

Die geselskap van Die halwe huis oor die toneelstuk, die proses en inspirasie. Dis ’n gesprek oor manlikheid en wat man-wees beteken, nie net binne die hedendaagse wêreldkonteks nie, maar ook binne die kultuurkonteks van die platteland. Dis ’n gesprek oor die dinge waaroor nie gepraat word nie en die realiteite en samelewing wat ’n impak op mans in Suid-Afrika het. 

Afrikaans • Gesin • 45 min. • Gratis
Gimsaal (in die voorportaal)
30 Maart 10:15 (ná die 09:00-vertoning)

Kiss of the Spider Woman

MET Wessel Pretorius en Mbulelo Grootboom

Die bekroonde regisseur Sylvaine Strike is bekend vir haar magiese teater. Hoewel die Argentynse skrywer Manuel Puig se Kiss of the Spider Woman in ’n tronk afspeel, verklap die titel reeds iets van ’n andersoortige wêreld wat ook binne die vier mure van ’n sel geskep word, van die ontvlugting van omstandighede deur die twee gevangenes wat klassieke verhale van die silwerskerm herskep. Maar aan die werklikheid kan hulle nie ontsnap nie, en ook nie aan die oënskynlike verskille nie. Hoe pak ’n mens so ’n klassieke Spaanse werk aan, wat reeds in 1976 verskyn het, en wat sê dit vir vandag se gehore, ook hier aan die suidpunt van Afrika? 

Engels • Gesin • 45 min. • Gratis
Gimsaal (in die voorportaal)
30 Maart 14:10 (ná die 12:30-vertoning)

Terminaal 3  

MET Marthinus Basson, Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam, Edwin van der Walt, Carla Smith en André Roothman

Hoewel nie so bekend in Suid-Afrika nie, word Lars Norén beskou as een van die grootste Sweedse dramaturge en was sy dood in 2021 aan Covid-19 ’n groot verlies. Hy het veral die fokus geplaas op die fynere, soms absurde aspekte van menslike situasies. Kom meer te wete oor hoekom die bekroonde regisseur Marthinus Basson soveel agting vir hom het en die uitdagings wat sy besondere karakters aan die spelers gestel het.

Afrikaans • Gesin • 45 min. • Gratis
Johnny Bisschoff-saal
31 Maart 10:15 (ná die 09:00-vertoning) 

Ek, Anna van Wyk 

MET Marthinus Basson, Tinarie van Wyk Loots, Dawid Minnaar, Carlo Daniels, Albert Pretorius, Gideon Lombard, Geon Nel, Wilhelm van der Walt en René Cloete.

Marthinus Basson se 1999-produksie van dié klassieke werk van dramaturg Pieter Fourie het ’n opskudding veroorsaak. Selfs Fourie het aanvanklik sy bedenkinge gehad oor Basson se interpretasie en verwerking… Ná Fourie se dood verlede jaar, nadat maagkanker vroeër by hom gediagnoseer is, word dié produksie herskep om hom te huldig. Toe en nou. Hoekom juis Ek, Anna van Wyk en hoe was dit om só kort ná sy afsterwe weer met ’n werk van Fourie te woeker? En wat van staaltjies oor dié legende van die KKNK, wat dalk skalks met sy pyp tog staan en toekyk wat Basson nou weer aanvang…

Afrikaans • Gesin • 45 min. • Gratis 
Johnny Bisschoff-saal
1 April 11:30 (ná die 09:00-vertoning)

Agulhasvlakte

MET Herschelle Benjamin, Kanya Viljoen, Kay Smith, Rene Arendse en Wilhelm van der Walt

Die jong dramaturg Herschelle Benjamin takel in Agulhasvlakte verskeie kwessies: klimaatsverandering, grondhervorming, geestesgesondheid, maar uiteindelik is dit ook ’n diep menslike verhaal oor verhoudings. Die eweneens jong regisseur Kanya Viljoen het die leisels gehou. Kom luister wat vandag se jongmense op die hart het, en luister aandagtig, want hulle erf ’n planeet wat struikel. En waarom kies hulle teater om hulself uit te druk en hoe pak die nuwe geslag dinge aan in ’n wêreld waar tegnologie nou baas is?

Afrikaans • Gesin • 45 min. • Gratis
Gimsaal (in die voorportaal)
1 April 17:45 (ná die 16:30-vertoning)

Karatara

MET Gideon Lombard, Dean Balie, Shaun Oelf en Grant van Ster

Ons word daagliks gekonfronteer met die nuus van traumatiese gebeure van oor die wêreld heen. Hashtags en ondersteunende filters word geskep en almal wys hul medelye en ondersteuning vir wat die “saak” ook al mag wees… tot die volgende gebeurtenis, dan beweeg almal aan. Maar die impak en gevolge bly by dié wat regstreek geraak is, dié wie se lewens altyd deur die gebeurtenis beïnvloed sal word/wees. Wat maak werklik ’n verskil? Hoe kan mens werklik ’n verskil maak? En kan teater ’n verskil maak? Die geselskap van Karatara wag al twee jaar om die storie te vertel, hoe wens ’n mens dat die storie nie meer relevant was ná twee jaar nie, maar die werklikheid is dat die storie wat hul twee jaar gelede wou vertel en oopbreek steeds talm, steeds die realiteit is – in dié geval van ’n baie spesifieke gemeenskap, maar verteenwoordigend van soveel ander soortgelyke gevalle in die wêreld.

Afrikaans • Gesin • 45 min. • Gratis
Laerskool Wesbank
1 April 18:15 (ná die 17:00-vertoning)

KKNK 2022 Ons wil graag vir jou kort nuusnotas stuur met belangrike nuus en gebeure!
Dismiss
Allow Notifications